Tony Leon: ‘Jan Smuts se woorde steeds waar vir SA’

Tony Leon: ‘Jan Smuts se woorde steeds waar vir SA’

Hy bly optimisties oor Suid-Afrika se toekoms ondanks die kruispunt van krisisse waar die land hom tans bevind, het Tony Leon Woensdagaand in ’n toespraak voor die Britse parlement se Henry Jackson-vereniging gesê.

Suid-Afrika het presies 22 jaar gelede sy rug op 350 jaar van rasseverdeling, uitbuiting, onderdrukking en ystervuis-regering gedraai. In 1994 het die land die beginsels van die oppergesag van die reg, ’n liberale demokrasie, burgerregte en ’n markekonomie omhels.

Ons land word nou deur van sy ernstigste krisisse en uitdagings sedert 1994 in die gesig gestaar en ongelukkig is daar ’n neiging om na die verlede te gryp.

Talle in die regerende party wil onthou word vir die struggle of die goue voetnoot wat Nelson Mandela se befaamde presidentskap aan Suid-Afrika en die wêreld geskenk het.

Die hedendaagse Suid-Afrika dra natuurlik steeds die nagevolge van apartheid, maar apartheid het ook ’n meerdoelige verskoning en sondebok geword vir die post-apartheid-regerings en hul mislukkings. Maar, soos onlangse gebeure bewys, raak die storie nou geyk.

Ek was in die 1990’s bevoorreg genoeg om te kon deelneem aan die historiese onderhandelingsproses wat tot die demokratiese oorgang gelei het.

Baie van ons het destyds, te midde van die fyn kompromieë wat in ons Grondwet vervat is, gehoop dat ons ’n groot eikeboom op die verwoeste terrein van ons betwiste landskap geplant het. Wanneer ons egter nou die verwagtinge met die realiteit vergelyk sedert Mandela ons in 1999 verlaat het, lyk dit of ons eerder ’n beskeie bonsai-boompie geplant het – een wat yl skadu aan die regte van burgerlikes bied en min doen om markgerigte beleidsrigtings te vestig.

Suid-Afrika staan vandag by ’n kruispunt van krisisse. Sommige daarvan is ingevoer en ander is weens ons geografiese ligging en ons afhanklikheid van natuurlike hulpbronne. Die meeste daarvan is egter eerlikwaar ons eie maaksel. Verskeie van die krisisse is weens ’n gebrek aan die aanpasbare, visioenêre – maar taai – leierskap wat deur Mandela en F.W. de Klerk versinnebeeld is.

Regter Dikgang Moseneke, ons uitstekende adjunkhoofregter, het tydens ’n openbare lesing in 2014 ’n belangrike opmerking gemaak. Hy het verwys na die president se “verstommende konsentrasie van mag” en die netwerk van patronaatskap wat gevolglik gevestig is. Hy het gewaarsku Suid-Afrikaners kan nie bekostig om dit te ignoreer nie.

Hy het bygevoeg, en sy staaltjie is heeltemal akkuraat: “Daar was tydens die finale grondwetlike onderhandelings ’n verstandhouding dat, wanneer daar ’n twis was oor wie senior staatsamptenare mag aanwys, dit aan Mandela oorgelaat word. Hy sal immers die regte ding doen.”

Dit het hy meestal gedoen. Maar diegene onder ons wat meer skepties is, het gereken ’n Grondwet moet, soos my ou professor in grondwetlike reg altyd gesê het, “ontwerp word vir die dag wanneer jou grootste vyand regeer”.

My party was toe egter net ’n spatsel van liberalisme tussen swart nasionalisme wat aan die een kant aanstorm en wit nasionalisme wat aan die ander kant retireer. Ons kon dus die aptyt vir ongebreidelde mag net tot ’n mate rem.

Die persoonlikheid en magte van die president is belangrik omdat ekonomiese vooruitsigte en vertroue deur politiek gerig word, soveel te meer in ’n land waar die Grondwet vir ’n Mandela geskryf is, maar nou deur ’n Zuma gelei word.

Zuma is die spilpunt van al die konflik en geraas in die republiek. En as daar een kwessie is wat hom verpersoonlik, is dit die besteding van meer as R260 miljoen aan sy private woning by Nkandla.

Toe Zuma in 2009 president geword het, moes hy soos ’n Harry Houdini van meer as 700 klagte van korrupsie, belastingontduiking en rampokkery ontsnap. Om dít te kon doen, moes hy baie van ons lofwaardige instrumente van openbare ondersoek en vervolging platstoot. Dit het groot skade aan ons regstelsel en ons Grondwet aangerig.

Die konstitusionele hof se rigtinggewende uitspraak oor Nkandla het duidelik gewys presies hoe Zuma se magsgreep verslap het.

Toe hy Mogoeng Mogoeng as hoofregter aangestel het en die ANC-lid Thuli Madonsela as openbare beskermer, het hy ongetwyfeld aangeneem hulle sal albei na sy pype dans.

Maar hy moes die waarskuwing van die 1930’s in gedagte gehou het toe die destydse minister van justisie Oswald Pirow gekla het: “Die probleem met politieke aanstellings op die regbank is dat hulle ses maande ná ek hulle aangestel het, aanneem hulle is op meriete aangestel!”

Onder Mogoeng se leierskap het die hof ’n snydende en verpletterende beskuldiging voor Zuma se deur gelê. Die hof het bevind hy het “misluk om die Grondwet as die hoogste wet van die land te handhaaf, te verdedig en te respekteer”.

Terwyl die hof se uitspraak elemente van die geskende Grondwet en die demokratiese projek herbevestig het, het dit die president gewond – die president wat eerder sy gedrag skoei op dié van sy vriend Wladimir Poetin as op dié van byvoorbeeld Nelson Mandela.

Die groeiende koor van ANC-ringkoppe wat vra dat hy gepos word, en die toenemende gevoel dat sy party by die munisipale verkiesings gaan ly en dalk selfs sleutelstede gaan verloor omdat hy aan die leierskap bly vasklou, wys presies hóé erg hy gewond is.

’n Mens kan seker ’n afleiding hieruit maak dat dít wat sleg is vir mnr. Zuma, goed is vir die land se demokratiese en ekonomiese welstand en toekoms. En vice versa. Dit sou waar gewees het, “maar net tot op ’n punt, Lord Copper”, soos wat Evelyn Waugh geskryf het.

Soveel as wat opposisiepolitiek groei, so veerkragtig as wat Suid-Afrika se wêreldklas-privaatsektor is, so gesofistikeerd, likied en ontwikkeld as wat die geldmarkte is, so getrou as wat die nasie aan die Grondwet bly, sal ’n verandering in leierskap alleen nie die land se gebroke pad kan herstel nie.

Tolstoy het altyd oor die “Goeie Tsaar” geskryf na wie die Russe toe en nou hunker om hul land te red. Maar in War and Peace het hy ons herinner dat “ ’n koning ’n slaaf van die geskiedenis is”.

Dit is heeltemal waar dat die toeval van Mandela en De Klerk Suid-Afrika twee dekades gelede heel waarskynlik van ’n moontlike Armageddon-uitkoms gered het.

Die Suid-Afrikaanse skrywer en Oxford-intellektueel RW Johnson was reg toe hy in ’n onlangse topverkoper (met die somber titel How Long Will South Africa Survive? The Looming Crisis) geskryf het: “Suid-Afrika kan kies om ’n ANC-regering te hê of om ’n moderne, industriële ekonomie te hê. Hy kan nie albei hê nie.”

Ondanks dit alles bly ek egter ’n optimis. Ek herinner myself dat jul eie land (Brittanje) in 1979 wyd beskou is as “the sick man of Europe” totdat ’n sekere merkwaardige vrou die land en die vooruitsigte verfris en verander het.

Voor die koms van Mandela was genl. Jan Smuts dalk die grootste internasionale staatsman wat deur my land opgelewer is. In 1942, midde-in die Tweede Wêreldoorlog en ’n wêreldwye stryd teen Fascisme en Nazisme, het hy ’n inspirerende toespraak aan hierdie parlement gelewer. Oor Suid-Afrika het hy toe gesê: “Dis ’n land waar nie die beste of die ergste ooit gebeur nie.”

Ons hoef net na ons onstuimige verlede te kyk om te weet dit bly vandag, 70 jaar later, steeds waar vir Suid-Afrika.

* Tony Leon was eers die leier van die Demokratiese Party en daarna van die DA – van 1994 tot 2007. Hy was ook Suid-Afrika se ambassadeur in Argentinië.

* Dié stuk is ’n verkorte en vertaalde uittreksel uit Leon se toespraak.

About the Author: